VSA: Werkloosheid styg steeds
2009-10-02 23:00
Washington - Die Amerikaanse ekonomie het Vrydag ’n skok gekry toe ’n verslag toon dat werkloosheid in dié land steeds toeneem.
’n Verdere 263 000 mense het in September hul werke in die VSA verloor, het die verslag deur die land se departement van arbeid getoon.
Amerika se arbeidsmark het geblyk om aan die verbeter te wees, maar dié verslag, wat beskou word as ’n belangrike ekonomiese barometer, toon dat die VSA se arbeidsmark ná maande se vooruitgang nou weer kwyn.
Die werkloosheidsyfer het met ’n tiende van ’n persentasiepunt gestyg sedert Augustus.
Dié syfer sou egter nog hoër gewees het as 571 000 mense nie uit die arbeidsmark getree het nie.
"Hierdie data bevestig dat die ekonomiese herstel frustrerend en stadig gaan wees. ’n Klomp mense gaan nog vir ’n lang tyd ongelukkig wees," het Robert MacIntosh, ’n ekonoom by Eaton Vance, gesê.
- AP