VSA: Skietery moontlik weens dispuut by werk
2012-08-24 17:44
New York – Polisiebronne het aan die plaaslike media gesê die skietery buite die Empire State-gebou in New York hou verband met ‘n dispuut by ‘n werkplek.
'n Skieter het Vrydagmiddag buite die Empire State-gebou op mense losgebrand.
Twee mense is glo in die voorval dood, waarvan een die skieter was, het Reuters berig.
Aanvanklike verslae dui daarop dat minstens agt mense gewond is. Die skietery het glo net ná 09:00 (plaaslike tyd) begin.
Die motief agter die voorval was nie onmiddellik bekend nie.
Dit blyk ook nie of terrorisme ‘n motief vir die aanval was nie, het Reuters bygevoeg.
Strate rondom die Groot Appel se grootste aantreklikhede is gesluit terwyl die polisie die omgewing gemonitor het.
Ray Kelly, New York se polisiekommissaris, en die burgemeester, Michael Bloomberg, sou by ‘n nuuskonferensie oor die skietery praat.
NY1-televisie het berig dat agt mense geskiet is en dat een van die skieter se slagoffers ook dood is, terwyl CNN berig het dat tot 10 mense geskiet is.
ABC-televisie het berig twee mense, insluitend die skieter, is dood, terwyl vier mense ernstig beseer is.
“Ek was bang, in skok, ek het letterlik gebewe. Dit was net toevallig dat ek dit gemis het,” het ‘n getuie, Rebecca Fox, gesê.
“Ek het ‘n vrou gesien wat vol bloed was. ‘n Ander vrou is na ‘n ambulans geneem.”
Fox sê sy het die gewapende man gesien. Volgens haar was hy middeljarig en hy het op die grond gelê.
“Daar was bloed op die grond,” het sy gesê.
Plaaslike televisieberigte het die polisie aangehaal en sê die skietery het verband gehou met ‘n dispuut by ‘n werkplek, maar dit was nog onduidelik of sy slagoffers spesifieke teikens was of net toevallig gekies is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP