VSA: Ooste wag in angs op superstorm
2012-10-29 07:24
New York – Inwoners van groot dele van die ooste van die VSA het teen vroeg Maandag in angs gewag terwyl 'n enorme orkaan op die gebied afgepyl het.
Owerhede in New York het Sondag 375 000 mense uit laagliggende kusgebiede ontruim terwyl hulle gewag het dat orkaan Sandy die gebied tref.
Meer as 7 400 vlugte wat vanuit stede aan die kus moes opstyg, is gekanselleer, en sommige groepe werkers in die staatsdiens is aangesê om liefs nie Maandag werk toe te gaan nie. Skole is ook gesluit.
Amtrak, wat openbare vervoer bestuur, het alle bus- en treindienste aan die kus opgeskort. Moltreine, gewone treine en busse in New York, Philadelphia en Washington staan ook stil.
Die New Yorkse aandelebeurs sal Maandag gesluit wees, en daar is 'n sterk moontlikheid dat dit ook nie Dinsdag sal open nie.
Selfs die Amerikaanse presidentskandidate se veldtogte is deur die dreigende storm geraak, met beide kandidate wat verskynings in sleutelstate vir eers uitgestel het.
"My eerste boodskap is aan alle mense aan die ooskus... Julle moet hierdie baie ernstig opneem," het Obama gesê, en die sowat 50 miljoen Amerikaners wat deur die storm geraak kan word, gevra om plaaslike owerhede te gehoorsaam.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP