VN-hoof vaar uit oor verkragting-pandemie in SA
2013-02-09 13:15
Genève, Switserland – Die Verenigde Nasies (VN) se hoof van menseregte, Navi Pillay, het haar skok uitgespreek oor die moord en verkragting van 'n Suid-Afrikaanse tiener.
Sy het 'n beroep gedoen op owerhede om meer te doen om die "pandemie van seksuele geweld" te beveg.
"Daar moet 'n boodskap aan verkragters uitgestuur word dat seksuele geweld is absoluut onaanvaarbaar en dat hulle die gevolge van hul gruweldade moet dra.
"Die kultuur van seksuele geweld in Suid-Afrika moet stop."
Pillay het reageer op die moord en verminking van die 17-jarige Anene Booysen, wat wreed aangeval en by 'n bouterrein vir dood gelaat is. Sy het verlede Saterdagaand in die hospitaal gesterf.
Hoewel sy sterk reaksies van pres. Jacob Zuma en ander partye verwelkom het, het Pillay gesê: "Die afgryslike geval moes nie die dringende behoefte uitwys vir 'n meer deeglike reaksie oor die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing om die oorsake van die pandemie van seksuele geweld te beveg nie.
"Die feit dat tienduisende ander verkragtings jaarliks in Suid-Afrika plaasvind, is 'n duidelike aanduiding dat die probleem op 'n meer robuuste manier aangespreek moet word," het Pillay gesê.
Volgens amptelike statistieke is sowat 65 000 seksuele oortredings verlede jaar in Suid-Afrika aangemeld. Die polisie sê egter slegs een in elke 36 verkragtingsake word aangemeld. 'n Onlangse studie het bevind dat meer as een kwart van Suid-Afrikaanse mans erken dat hulle 'n vrou of meisie verkrag het.
Pillay het haar woede uitgespreek omdat so min verkragters in Suid-Afrika veroordeel word.
"Dit is nie net 'n skokkende ontkenning van geregtigheid vir die duisende slagoffers nie, maar ook 'n faktor wat bygedra het tot die normalisering van verkragting en geweld teen vroue in die Suid-Afrikaanse samelewing."
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP