VN-hoof besoek Japan-kerngebied
2011-08-08 18:43
Fukushima – Die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, het Maandag dié wêreldliggaam se steun aan Japan beloof nadat die land vroeër vanjaar deur ‘n aardbewing, tsoenami en kernkragramp getref is.
Hy het mense wat weens vrese vir radio-aktiewe bestraling ontruim moes word en steeds in tydelike skuilings woon aangemoedig om “vas te byt”.
Ban is een van die mees senior buitelandse leiers wat die streek naby aan die Fukushima Daiichi-kernkragaanleg wat steeds radio-aktiewe stowwe lek, onlangs besoek het.
“Ek het hierheen gekom om my solidariteit met julle te bewys, asook die VN se solidariteit met die regering van Fukushima en veral die geaffekteerde mense in Fukushima,” het Ban aan goewerneur Yuhei Sato gesê.
“Spesifiek hierdie Fukushima Daiichi-kernkragaanleg-ongeluk het vir ons belangrike lesse geleer,” het hy gesê.
“Ons moet ons vermoë om ons veiligheid te verbeter en om in sulke noodgevalle te kan reageer, versigtig hersien.”
Nagenoeg 85 000 mense het uit die gebied rondom die kernaanleg gevlug ná die wêreld se ergste kernramp sedert Tsjernobiel 25 jaar gelede hier plaasgevind het.
Ban het saam met sy vrou ‘n skuiling vir meer as 300 ontruimde mense hoofsaaklik van die stad Minamisoma en ‘n 20 km-"geen toegang"-gebied rondom die aanleg, besoek. Die meeste mense hier woon al vir die afgelope vyf maande in die beknopte omstandighede.
Die Japanse regering en die aanlegoperateur, Tokyo Electric Power Company, sukkel vyf maande ná die ongeluk steeds om die kernreaktors te stabiliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP