VN getref in grootste kuberaanval nóg
2011-08-03 13:04
Veiligheidskenners het die grootste reeks kuberaanvalle tot op hede, wat altesaam 72 organisasies, insluitende die Verenigde Nasies geïnfiltreer het, ontdek.
Die sekerheidsmaatskappy McAfee het die inbrake ontdek en glo dit is een “staatsrolspeler’ wat vir die aanvalle verantwoordelik is. McAfee wou nie ‘n naam vir die verdagte staat gee nie, maar een veiligheidskenner het gesê die bewyse dui daarop dat dit China is.
Die lang lys slagoffers van die veldtog wat vyf jaar geduur het sluit die regerings van Amerika, Taiwan, Indië, Suid-Korea, Viëtnam en Kanada in, asook die Vereniging vir Suidoos Asiatiese Nasies, die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), die wêreld se anti-dwelmagentskap en ‘n verskeidenheid van privaatmaatskappye.
In die Verenigde Nasies se geval het die kuberkrakers in 2008 by sy sekretariaat in Genève se rekenaarstelsel ingebreek, vir amper twee jaar op die stelsel vertoef en stilweg deur talle geheime dokumente gelees.
“Ons was self verras deur die enorme diversiteit van die slagoffer-organisasies en die vermetelheid van die oortreders,” het McAfee se adjunk-president van bedreigingsnavorsing, Dmitri Alperovitch, in ‘n verslag van 14 bladsye wat Woensdag bekendgemaak is, geskryf.
“Wat met al hierdie data gebeur … is steeds ‘n ope vraag. As slegs ‘n breukdeel daarvan egter gebruik word om beter kompeterende produkte te bou of om kompetisie in ‘n sleutelonderhandeling te klop (deurdat hulle die ander span se plan van aksie vooraf geweet het), hou die verliese vir privaatmaatskappye ‘n massiewe ekonomiese bedreiging in.”
McAfee het in Maart vanjaar van die kuberkraakveldtog uitgevind toe sy navorsers talle inskrywings van aanvalle in ‘n “bevel en beheer” diensverskaffer ontdek het terwyl hulle besig was met ‘n ondersoek na sekerheidsoortredings van verdedigingsmaatskappye in 2009.
Sommige van die kuberaanvalle het slegs ‘n maand geduur, maar die langste aanval was op die olimpiese komitee van ‘n ongeïdentifiseerde Asiatiese land en het volgens McAfee 28 maande geduur.
Volgens Jim Lewis, ‘n kuberspesialis by die sentrum vir strategiese en internasionale studies, is dit waarskynlik dat China vir die veldtog verantwoordelik is omdat baie van die teikens inligting bevat het wat van besondere belang vir Beijing sou kon wees.
Die IOK en verskeie nasionale olimpiese komitees se stelsels is byvoorbeeld in die aanloop tot die Beijing Spele in 2008 aangeval, meen hy.
“Alle bewyse dui daarop dat dit China is. Dit kan die Russe wees, maar daar is meer inligting wat dui op China as op Rusland,” het Lewis gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters