VN amptenaar in Pakistan doodgeskiet
2009-07-16 14:30
Peshawar, Pakistan - 'n Amptenaar van die Verenigde Nasies (VN) en 'n sekuriteitswag is Donderdag gedurende 'n mislukte ontvoering doodgeskiet. Dit het gebeur by 'n Pakistanse vlugtelingekamp waar mense skuiling van die onrus in dié stad gesoek het, het amptenare gesê.
Die insident was die derde moord van iemand binne die VN vlugteling-agentskap in Pakistan in die afgelope vyf maande. Dit is 'n weerspieëling van 'n groeiende golf van geweld wat die VN se pogings tot hulp bemoeilik.
"Om 11:30 vm (05:30 MGT) het gewapende mans op die VN- werkers in die Katcha Ghars kamp begin skiet," het die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge (VNHKV) gesê.
Die 59-jarige Zill-e-Usman, 'n senior Pakistani VNHKV amptenaar, is doodgeskiet en Ishfaq Ahmed, 'n VNHKV-klerk, gewond. 'n Wag is ook tydens die voorval doodgeskiet.
- Sapa