'VN-Menseregteraad moet vinniger reageer'
2010-09-12 11:19
Genève - Alhoewel die Verenigde Nasies se Menseregteraad daarin geslaag het om een van hul grootste kritici, naamlik die VSA, oor te wen, meen kenners die Raad moet vinniger reageer wanneer menseregteskendings plaasvind.
'n Hersiening van die Raad se werkinge sal volgende maand plaasvind, vyf jaar nadat die liggaam tot stand gekom het.
"Een van ons grootste bekommernisse is dat die raad nie effektief gereageer het in situasies waar skendings plaasgevind het nie," het Juliette de Rivero van Human Rights Watch gesê. "Ons sien dat al hoe minder situasies deur die raad ondersoek word."
Die Menseregteraad is in Maart 2006 gevorm om die Menseregtekommissie te vervang. Laasgenoemde is gediskrediteer weens die menseregteskendings wat in lidlande soos China, Kuba, Sudan en Zimbabwe plaasgevind het.
Die VSA wou nie die Raad ondersteun nie, omdat dit nie na hul mening nie die kommissie se tekortkominge voldoende aangespreek het nie.
Die nuwe VSA administrasie het egter 'n nuwe houding jeens die Raad en het verlede jaar 'n lid van die Raad geword.
- SAPA