Uitspraak in bendeverkragtingsaak 'gou' bekend
2013-01-29 18:00
Nieu-Delhi – Die uitspraak in die saak van vyf mans wat aangekla is van die noodlottige bendeverkragting van ‘n student op ‘n bus in Nieu-Delhi sal “binnekort” gelewer word, het ‘n prokureur Dinsdag gesê.
V.K. Anand sê verrigtinge in die spesiale hof, wat opgestel is sodat die saak vinnig aangehoor kon word, verloop spoedig. Hy het in ‘n aanlyngesprek met die Indiese nuuskanaal CNN-IBN gepraat.
“Teen hierdie spoed verwag ek baie vinnig ‘n uitspraak,” het Anand gesê. Hy verteenwoordig twee beskuldigdes.
“(Maar) dit sal seker meer as ‘n maand neem, aangesien die ondersoek van bewyse en getuies lank kan neem.”
‘n Petisie om die verhoor uit die hoofstad te skuif, aangesien daar ‘n groot vraag is vir ‘n vinnige uitspraak en die doodstraf, is Dinsdag deur die hooggeregshof afgekeur, aangesien dit ingedien is deur ‘n prokureur wat nie meer aan die saak werk nie.
Anand sê hy sal nie die aansoek hernu nie, maar dat hy wel ‘n bevel sal uitdaag wat sê die media mag nie oor die hofverrigtinge berig nie.
“Ek sal hierdie week ‘n petisie indien vir ‘n oop verhoor in die hooggeregshof,” het Anand, wat beide Mukesh Singh en sy broer Ram verteenwoordig, aan AFP gesê.
“Ons het ‘n baie onpartydige, regverdige en bevoegde regter in hierdie saak,” het Anand geskryf.
Hy het bygevoeg dat sy kliënte ‘n “regverdige kans” het om onskuldig bevind te word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP