2de vroulike Britse soldaat sterf in Afganistan
2011-04-20 23:00
Londen - ‘n Tweede vroulike Britse soldaat is dood in die konflik in Afganistan, het die Britse ministerie van verdediging Dinsdag gesê, nadat ‘n toestel wat sy probeer ontlont het, ontplof het.
Kapt. Lisa Head (29) het in ‘n steeg gewerk wat dikwels deur Afgaanse en internasionale troepe gebruik word in die besige suidelike Helmand-provinsie.
Sy is saam met haar span ontplooi na die Nahr-e Saraj-distrik om ‘n tuisgemaakte ploftoestel te ontlont. Nadat sy die bom ontlont het, is sy noodlottig beseer toe sy ‘n tweede toestel, wat ontplof het, probeer ontlont het.
Die kaptein is na die militêre hospitaal in Brittanje se Kamp Bastion-basis vervoer voordat sy na ‘n spesialis-militêre hospitaal in Engeland gevlieg is.
Sy het in hierdie hospitaal gesterf.
Altesaam 364 Britse soldate is sedert die konflik in 2001 begin het, in Afganistan dood. Head is die 16de wat vanjaar sterf.
Brittanje het sowat 9 500 troepe in Afganistan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP