Twee val dood ná hulle van vlamme vlug
2012-07-23 11:00
Madrid – Twee mense het in die see na hul dood gespring toe hul probeer vlug het van veldbrande wat in die noorde van Spanje woed.
Die brande het ook veroorsaak dat die hoofweg tussen Spanje en Frankryk vir verkeer gesluit is.
Nóg ‘n persoon is weens ‘n hartaanval dood terwyl hy probeer het om vlamme rondom sy huis te blus en 24 mense het beserings opgedoen. Agt van die 24 beseerdes is in ‘n erntige toestand.
Treindienste in dié streek is gestaak en talle paaie wat Barcelona met Frankryk verbind, is gesluit, het Felip Puig, Spanje se plaaslike regeringswoordvoerder, gesê.
Die twee mense is dood toe hulle in die see gespring het om van die vlamme, wat motors op ‘n pad naby Portbou verswelg het, te vlug, het die plaaslike brandweerstasie gesê.
Verskeie motoriste is gedwing om op die hoofweg stil te hou om wat deur die brande verwoes is, te vermy. Reddingsoperasies is aan die gang om dié motoriste te red.
“Die situasie op die paaie in dié gebied is baie ingewikkeld,” het die brandweerdiens in ‘n verklaring gesê.
Santiago Villa, burgemeester van Figueres, wat die bekende Salvador Dali-museum huisves, sê hy het die dorp se 44 000 inwoners beveel om tot verdere kennisgewing binnenshuis te bly.
Luidens die brandweerdiens se verklaring het die brande reeds 13 000 hektaar grond verwoes.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA