Twee van SA ‘het Kaboel-aanval verwag’
2011-06-30 10:19
Pretoria en Kaboel - Suid-Afrikaners wat in die private veiligheidsbedryf in Afganistan werk was ’n aanval op die InterContinental-hotel in Kaboel vandeesweek te wagte.
Hulle het egter die aanval eerder Woensdag verwag, omdat ’n konferensie toe by die hotel gehou sou word om die oordrag van veiligheid van die internasionale koalisiemagte aan die Afgaanse regering te bespreek.
Ses tot agt selfmoordbomaanvallers van die Taliban het die hotel Dinsdag omstreeks 22:30 bestorm en vier kragtige ontploffings kon kilometers ver gehoor word, het ’n Suid-Afrikaner gesê.
Volgens hom het minstens 70 buitelanders en Afgaanse hooggeplaastes tydens die aanval in die hotel gebly.
Al die aanvallers en nege burgerlikes is in die aanval dood. Die burgerlikes se nasionaliteite is egter nog nie bekend gemaak nie, het hy gesê. Volgens hom het die Afgaanse veiligheidsmagte onmiddellik op die voorval gereageer.
Die hulp van twee Amerikaanse helikopters is ingeroep toe van die aanvallers van die dak van die hotel begin skiet het.
Die helikopters was nagenoeg drie uur lank in ’n oor-en-weer-skietgeveg met drie van die aanvallers gewikkel voordat die aanvallers doodgeskiet is. Nog ’n aanvaller het ’n selfmoordbom in een van die hotel se kamers laat ontplof.
’n Gedeelte van die hotel was weens die aanval later aan die brand en teen gisteroggend het rook steeds uit die dag gesmeul.
Terwyl die geveg op die dak voortgewoed het, het Afgaanse soldate die hotel stelselmatig van onder af deurgesoek om die res van die aanvallers te vind. Vlugtende hotelgaste het buite rondom die hotel skuiling gesoek, terwyl ander in die hotel geskuil het.
’n Woordvoerder van die Afgaanse ministerie van binnelandse sake het gesê die aanvallers was met masjiengewere, lugafweerwapens, granaatlanseerders en handgranate gewapen.
Volgens een Suid-Afrikaner is dié aanval nie kenmerkend van ’n tipiese Taliban-aanval nie en is dit ’n bewys dat die Taliban sy strategie in Afganistan verander het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger