Twee sterf in seiljag-ongeluk
2009-10-10 11:45
Sydney – Die kaptein en een ander bemanningslid aan boord ‘n groot seiljag is gedurende ‘n resies suid van Sydney in ‘n ongeluk dood.
Andrew Short, die 48-jarige eienaar en kaptein van die PriceWaterhouseCoopers seiljag en die 47-jarige Sally Darling, kon nie bygebring word nadat hulle vroeg Saterdagoggend uit die see gered is nie.
Die 24-meter seiljag het sewe ure nadat die resies begin het naby die Flinders eilandjie suid van Sydney skipbreuk gely.
Die ander 15 bemanningslede het dit veilig tot by Flinders Eiland gemaak en is met helikopters na Wollongong hospitaal geneem nadat hulle verskeie matige beserings, insluitende hipotermie en skok, opgedoen het.
Een ander man is uit die see gered.
Al 16 is in ‘n stabiele toestand en sal later Saterdag uit die hospitaal ontslaan word.
Polisie van New South Wales stel ondersoek in die ongeluk in.
Mark Hutchings, die waterpolisie se bevelvoerder, het gesê dat dit nie duidelik is hoekom die seiljag in moeilikheid gekom het nie, aangesien die see en weersomstandighede nie as uitermatig gesien is nie.
“Dit was koud...die deinings is hoog, maar nie erg vir die tipe seiljagte wat aan die resies deelgeneem het nie...dit was verseker nie moeiliker as waartoe hulle in staat was nie,” het hy gesê.
Short, wat getroud was met vyf kinders, en Darling, was beide van Sydney en ervare seevaarders.
- Sapa-AP