Twee sterf in Koran-betoging
2010-09-13 08:07
Kabul. – Twee mense wat betoog het teen die ontheiliging van die Moslems se heilige boek, die Koran, is Sondag dood in skermutselings met Afgaanse veiligheidsmagte.
’n Groep van ongeveer 500 mense het Sondagoggend op Afganistan se Baraki Barak-distrik toegesak en anti-Amerikaanse slagspreuke gedreunsing.
Hulle is oënskynlik aangevuur deur die planne van ’n Amerikaanse pastoor wat Saterdag Korans wou verbrand uit protes teen Islam. Hy het dié plan op die nippertjie laat vaar.
Hulle het slagspreuke soos “Dead with America!” gesing en Amerikaanse tenks en Afgaanse magte met klippe bestook.
Afgaanse soldate is deur die klippe beseer, met die gevolg dat ander skote na die skare afgevuur het, waardeur twee mense dood en vyf beseer is, het ’n ooggetuie gesê.
Die planne van pastoor Terry Jones van Florida om ’n Koran te verbrand as deel van sy selfverklaarde internasionale “Verbrand ’n Koran-dag”, het wêreldwyd verontwaardiging uitgelok.
Die woede is net-net ontlont toe hy op die nippertjie besluit het om eerder nie ’n Koran te verbrand nie.
In Springfield, Tennessee, het twee pastore wél eksemplare van die Koran en die Boek van Mohammed aan die brand gesteek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA