Skieter brand wéér los op kampus in Virginia
2011-12-08 22:58
Washington – ‘n Gewapende man het 'n veiligheidsbeampte en een
ander persoon by die Virginia Tech-universiteit in Blacksburg, Virginia, doodgeskiet.
Dit is dieselfde universiteit waar 32 mense in 2007 deur een van die universiteit se studente doodgeskiet is.
Die universiteit het op sy webwerf aangedui
dat die skieter nog nie gevind is nie en dat die kampus intussen afgesper is.
Die skieter is as ‘n wit man in ‘n dieprooi
sweetpak-top en grys sweetpakbroek beskryf.
“Die skieter se identiteit is nog nie bekend
nie,” het die universiteit op sy webwerf gesê.
“Die kampusgemeenskap moet bly waar hulle is.
"Niemand moet probeer om in hierdie stadium die kampus te besoek nie."
Die skieter het die veiligheidsbeampte geskiet toe
hy hom by ‘n parkeerterrein naby die universiteit se gimnasium voorgekeer het.
Daarna het die skieter na ‘n tweede
parkeerterrein gehardloop, waar hy glo ‘n tweede persoon doodgeskiet het.
In 2007 het ‘n student van dié universiteit, Seung-Hui Cho (23), 32 mense doodgeskiet voordat hy sy
eie lewe geneem het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP