Twee in hegtenis oor afluisterskandaal
2011-04-05 19:00
Londen - Twee mans is in hegtenis geneem as deel van ‘n ondersoek na telefoonafluistering by een van Brittanje se gewildste poniekoerante, het die Britse polisie Dinsdag gesê.
Die polisie het gesê twee mans, onderskeidelik 50 en 42 jaar oud, is by verskillende polisiekantore in Londen in hegtenis geneem.
Hulle word daarvan verdink dat hulle stemboodskappe op onwettige wyse onderskep het.
Die polisie het nie die name van die mans, wat in aanhouding is, bekend maak nie.
Dié is die eerste inhegtenisnemings sedert die polisie ‘n strafregtelike ondersoek na die beweerde afluistering van telefoongesprekke by die News of the World-koerant van stapel gestuur het. Vars aantygings het na vore gekom van bekendes soos Sienna Miller, wat die koerant van onwettige afluistering en teistering beskuldig het.
Die Guardian-koerant het gesê die mans is die News of the World se hoofverslaggewer, Neville Thurlbeck, en die voormalige nuusredakteur Ian Edmondson, wat eers geskors en toe afgedank is nadat die nuwe aantygings gemaak is.
Die News of The World is in dié skandaal gedompel nadat ‘n verslaggewer en ‘n privaatspeurder, wat deur die koerant gehuur is, gevang is toe hulle op onwettige wyse telefoongesprekke van die Britse koninklike familie se gevolg afgeluister het.
Die twee is reeds in 2007 aan dié dade skuldig bevind, maar die koerant het gesê hulle was die enigstes wat by die afluistering betrokke was.
Die News of the World wou nie kommentaar lewer op die inhegtenisnemings nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP