Twee dood in aanval op Nigeriese polisiestasie
2013-01-31 11:56
Kano – ‘n Polisiebeampte en een ander man is dood nadat gewapende mans met 'n bom in hulle besit ‘n polisiestasie buite Kano, Nigerië, aangeval het, het die polisie Donderdag gesê.
“Ons het ‘n polisiebeampte in die aanval verloor en die lyk van ‘n burgerlike is ook naby die polisiestasie gevind, maar dit is steeds onduidelik of hy een van die gewapende mans was of ‘n omstander wat in die kruisvuur was,” het Magaji Majia, polisiewoordvoerder van Kano, gesê.
Die aanvallers het die polisiestasie in Bunkure, 40 km van Kano, laat Woensdag binnegestorm en op die polisie begin skiet.
Hulle het 'n bom by die polisiestasie ingegooi en ‘n gedeelte van die gebou is vernietig.
Majia het geweier om te sê of die aanvallers van die Boko Haram- Islamitiese sekte was, wat vir tientalle aanvalle in noordelike en sentraal-Nigerië blameer word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP