Twee Pakistani's onthoof ná moorde
2012-05-20 17:00
Riyadh – Die owerhede in Saoedi-Arabië het Sondag twee Pakistani’s in die heilige stad Mekka onthoof nadat hulle skuldig bevind is aan twee moorde, het die ministerie van binnelandse sake gesê.
Bashir Afridi en Rahmulwahab Abdullah, albei van Pakistan, het Mohammed Haji, ook van Pakistan, beroof en vermoor, het die ministerie gesê in ‘n verklaring wat gedra is deur die staat se nuusagenstkap, SPA.
Die twee het ook ‘n vrou doodgemaak en die dood van ‘n ander veroorsaak, het SPA berig. Die nasionaliteite van die twee vroue is nie bekend gemaak nie.
Hierdie teregstellings bring die totale aantal teregstellings vanjaar in dié ultra-konserwatiewe koninkryk tot op 28 te staan, volgens ‘n telling deur AFP.
Minstens 76 mense is in 2011 in Saoedi-Arabië onthoof. Die doodstraf word toegepas vir ‘n reeks oortredings, insluitende verkragting, geloofsversaking, gewapende roof, dwelmhandel en moord.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP