Twee Israeli's probeer hulself aan die brand steek
2012-07-23 22:50
Tel Aviv – Twee Israeli’s het probeer om hulself aan die brand te steek.
Dit is die vierde voorval in sy soort in minder as vier weke.
'n Man in sy 40’s het ‘n vlambare vloeistof oor homself uitgegooi in die stadsaal van Netivot, terwyl ‘n ander man in sy 50’s dieselfde buite ‘n polisiestasie in Ofakim gedoen het, het ‘n polisie woordvoerder gesê.
In beide gevalle het munisipale personeel en polisiebeamptes die mans oorval en gekeer dat hulle die vloeistof aan die brand steek.
Albei mans het finansiële probleme.
Die man van Ofakim is na Beersheba-hopsitaal gestuur vir behandeling, terwyl die man van Netivot deur die polisie ondervra word.
‘n Gestremde Israeli-weermag-veteraan het homself Sondag by ‘n bushalte in Yehud, naby Tel Aviv, aan die brand gesteek.
Akiva Mafa’i is gehospitaliseer met brandwonde oor 80% van sy liggaam, na hy petrol oor homself uitgegooi het en dit aan die brand gesteek het.
'n Betoger het sowat 10 dae voor dié voorval homself aan die brand gesteek by ‘n betoging teen die hoë koste van behuising in Israel.
Silman, wat op die punt was om sy huis te verloor, het aan sy beserings beswyk.
Sy desperate daad het sterk emosies in Israel opgewek.
Sommige betogers noem hom ‘n simbool, terwyl ander sy daad kritiseer en dit as gevaarlik en gewelddadig afmaak.
Behalwe vir dié voorvalle en Maandag se gefnuikte pogings het vyf ander Israeli’s al gedreig om hulself aan die brand te steek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA