Franse burgers gevonnis oor seks met kinders
2012-10-02 11:35
Phnom Penh – ‘n Hof in Kambodja het Dinsdag twee Fransmanne gedeeltelike opgeskorte vonnisse van twee jaar opgelê nadat hulle tienerseuns seksueel mishandel het.
Denis Page (63) en Jean Vidon (67) is op 25 Oktober verlede jaar in hegtenis geneem nadat hulle betaal het om seks te hê met die seuns, wat onderskeidelik 15 en 17 jaar oud was.
Die voorval het in ‘n hotelkamer in die noordwestelike Battambang-provinsie plaasgevind.
Die hof het beslis dat hulle een jaar tronkstraf uitdien van die dag van hul inhegtenisname en die oorblywende jaar is opgeskort, wat beteken hulle kan binnekort vrygelaat word. Nietemin kan die seuns appèl aanteken teen die uitspraak.
“Ek is nie tevrede nie want die vonnisse is te toegeeflik. Ek sal dit met my kliënte bespreek en ons kan dalk daarteen appelleer,” het die slagoffers se prokureur, Hong Sambath, gesê.
Die hof het die Franse burgers ook beveel om aan elke slagoffer vier miljoen riel (R8 374) in skadevergoeding te betaal en dat hulle gedeporteer word nadat hul vonnis uitgedien is.
Tydens hul verhoor het die beskuldigdes ontken dat hulle seks met die seuns gehad het en beweer hulle het die seuns na hul hotel geneem om masserings te doen, het ‘n groep teen pedofilie, Action Pour Les Enfants (APLE), wat die saak gemonitor het, gesê.
APLE sê ook Page is voorheen in Frankryk skuldig bevind aan verkragting. Hy is op ‘n lys van seksoortreders en is ook in 1997 tot een jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van pedofilie in Thailand.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP