Turkse aardbewing eis dalk honderde
2011-10-25 08:02
Van – Minstens 279 mense is dood en daar word gevrees nóg honderde het omgekom in die aardbewing van 7,2-sterkte Sondag in die suidooste van Turkye.
Talle geboue is platgevee en nooddienswerkers spook om honderde mense wat lewend onder die puin begrawe is, te red. Vasgekeerdes se hulpkrete is oornag in ysige weer in dié stad en die dorp Ercis gehoor.
Die Turkse eerste minister, Tayyip Erdogan, het hom uit ’n helikopter vergewis van die skade se omvang ná die hewigste aardbewing sedert 1999 in Turkye.
“Die ernstigste probleem is die dorpies naby Van, omdat die geboue van kleisteen gebou is. Feitlik alle geboue in dié omgewing is verwoes.”
Die plaaslike krisissentrum het gesê tot 600 mense is beseer en tussen 300 en 400 mense, wat vermoedelik onder die puin vasgekeer is, word vermis.
Die algemene bestuurder van die Kandilli-sterrewag, Mustafa Erdik, het geraam “tussen 500 en 1 000” mense is dood.
Nooddienswerkers het in dié stad die puin van ’n sesverdiepinggebou gefynkam nadat omstanders gesê het 70 mense word daar vasgekeer. ’n Studentekoshuis het ook ineengestort.
“Niemand het ons nog bereik nie. Hulle het net tente van gewone seil gestuur. Dit is ysig koud,” het ’n gemeenskapsleier in ’n dorpie hier naby gesê.
Meer as 70 naskokke het die gebied reeds geruk. Die episentrum van die aardbewing was by Tabanli, 20 km noord van hierVan.
Internasionale aanbiedings vir hulpverlening het reeds van Navo, China, Japan, die VSA, Azerbaijan, Europese lande en Israel ingestroom.
Groot geologiese verskuiwingslyne kom dwarsoor Turkye voor en klein aardbewings vind feitlik daagliks plaas.
In 1999 is meer as 20 000 mense in twee aardbewings in dié land dood.
– Die Burger
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters