Tsoenami-waarskuwings in Chili
2010-03-04 12:06
Constitucion – Chili is Woensdag deur nog ‘n paar kragtige naskokke getref wat mense na hoërliggende dele langs tsoenami-vatbare kusgebiede laat stroom het.
Slegs vier dae nadat reuse-golwe honderde mense platgevee het, het twee naskokke, wat onderskeidelik 5.9 en 6.0 op die Richterskaal gemeet het, nuwe tsoenami-waarskuwings langs die Chileense kus tot gevolg gehad.
Duisende mense wat die 8.8-grootte aardbewing van verlede Saterdag oorleef het, sommige steeds opsoek na geliefdes, is deur troepe na hoërliggende gebiede aangehelp.
Ignacio Gutierrez, van die Chileense nuusstasie was na die verwoestende kusoord van Constitucion onderweg toe hy deur mense voorgekeer is wat hom gewaarsku het om te hardloop, want daar is ‘n tsoenami op pad.
Nelson Muna het kos en water vir slagoffers gebring toe sirenes begin afgaan het. “Ons het soldate sien hardloop, selfs hulle was bang.”
Die waarskuwings kom enkele ure nadat duisende troepe daarin geslaag het om plunderaars en oproerige inwoners in Constitucion weer in bedwang te bring.
Die waarskuwings van die tsoenami's is slegs 30 minute later gelig.
- Sapa-AFP