Tsoenami-vrese ná skudding naby Alaska
2013-01-05 13:16
Washington – 'n Aardbewing wat 7,5 gemeet het, het laat Vrydag die seebodem naby die suid-westelike kus van Alaska geruk, en owerhede genoop om tsoenami-waarskuwings uit te reik.
Die aarbewing het 355 km suid van die staat se hoofstad, Juneau, plaasgevind teen 'n diepte van 9,6 km, het die Amerikaanse Geologiese Opname gesê.
Naskokke het tot 4,5 gemeet.
Die skudding is tot aan die westelike deel van die Noord-Amerikaanse kus gevoel, en kon selfs tot in die stad Seattle waargeneem word.
Die Alaska Dispatch het berig dat verskeie gebiede ontruim is, maar die polisiedepartement in die kusdorp Sitka het gesê geen tsoenami-golwe is gerapporteer nie.
Die stad Craig, ook in Alaska, het op sy amptelike Twitter-profiel gesê 'n tsoenami word omstreeks 01:16 (plaaslike tyd) verwag, en dat 'n skool en gimnasium ontruim is.
Die Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie het tsoenami-waarskuwings vir dele van Alaska en die westelike kus van Kanada uitgereik.
Die media in Hawaii het berig dat daar geen risiko van 'n tsoenami by dié eiland was nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA