Tronkstraf vir man wat Obama wil vermoor
2012-07-14 09:02
Miami – 'n Man van Oezbekistan is Vrydag vir 15 jaar tronk toe gestuur nadat hy saamgesweer het om die Amerikaanse president, Barack Obama, te vermoor., het aanklaers gesê.
Ulugbek Kodirov (22) is deur 'n Amerikaanse regter skuldig bevind op aanklagte dat hy materiaal voorsien het om terrorisme te ondersteun, gedreig het om die president dood te maak en vir die besit van 'n vuurwapen deur 'n onwettige buitelander.
Kodirov wat Amerika met 'n geldige visum binnegekom het, maar later onwettig in die land was, sal na Oezbekistan gedeporteer word nadat hy sy tronkstraf uitgedien het.
Hy is op 13 Julie 2011 by 'n motel in Alabama in hegtenis geneem nadat hy probeer het om plofmiddels en wapens by 'n geheime agent te koop. Kodirov het in Februarie op al die aanklagte skuld beken.
As deel van sy pleitooreenkoms het Kodirov erken dat hy met 'n vermeende lid van die Islamitiese beweging van Oezbekistan, wat as die "Emir" bekendstaan, gekommunikeer het en saamgesweer het om die president te vermoor.
Die groep word as 'n terrorisme-organisasie beskou.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA