Treinramp: Dodetal styg, honderde beseer
2012-02-23 14:05
Buenos Aires – Desperate families was Donderdag op soek na geliefdes ná ‘n treinongeluk in Buenos Aires waarin 50 mense dood en sowat 700 beseer is.
Tientalle passasiers was vir ure ná die ongeluk nog in die wrak vasgekeer.
Reddingswerkers het die grootste deel van die dag probeer om mense uit die wrak te red nadat die volgepakte trein Woensdagoggend in ‘n muur van ‘n groot treinstasie vasgery het.
“Die trein was vol en die impak was geweldig,” het ‘n passasier, wat slegs as Ezequiel geïdentifiseer is, aan ‘n plaaslike televisiestasie gesê.
Hy het bygevoeg dat paramedici op die toneel oorweldig was deur die omvang van die ramp.
Amptenare het Woensdag gesê die dodetal het tot 50 gestyg.
Amptenare van die burgerlike verdedigingsmag het vroeër gesê dat minstens 675 mense in die botsing beseer is, waaronder 200 ernstig beseer is.
Die families van vermiste passasiers het desperaat by hospitale, die lykshuis en ‘n openbare begraafplaas, waarheen verskeie lyke geneem is, gaan soek na geliefdes.
Amptenare het lyste van die honderde beseerdes uitgereik, maar die identiteite van baie van die oorledenes en beseerdes is steeds onbekend.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP