Tragedie ruk Pukkelpop-fees
2011-08-19 11:18
Brussel – Minstens vyf mense is dood en talle ander is beseer nadat ‘n gewelddadige storm verwoesting by ‘n musiekfees in die noorde van België gesaai het.
Volgens plaaslike beamptes het feesgangers by die jaarlikse Pukkelpop-fees gesterf nadat twee verhoë ineengestort het en bome ontwortel is.
Tienduisende mense het die buitelugfees in Kiewit naby die dorp Hasselt bygewoon toe die storm Donderdagmiddag uitgebreek het.
Die sterk storm het veroorsaak dat ‘n verhoog op feesgangers val.
Die storm het... die Pukkelpop-fees getref wat naby die dorp Hasselt gehou word en minstens vyf mense doodgemaak,” het Hilde Claes, burgemeester van Hasselt, aan ‘n plaaslike radiostasie gesê.
Luidens berigte is meer as 40 mense beseer, waarvan talle in ‘n ernstige toestand is.
Volgens die nuusagentskap Belga was daar sowat 65 000 mense, meestal jongmense, by die musiekfees toe die storm uitgebreek het.
“Die lug het skielik pikdonker geraak en ons het skuiling gesoek terwyl ons vir die reën gewag het. En toe was daar skielik ‘n reënbui. Die wind het gewelddadig gewaai,” het Catherine Blaise, ‘n feesganger, luidens die koerant Le Soir gesê.
“Daar was haelstene wat groter as ‘n sentimeter was... Bome is ontwortel. Dit was ongelooflik – die einde van die wêreld,” het Blaise vertel.
Talle feesgangers was onder ‘n groot tent en besig om na die groep Smith Westerns te luister toe die tent inmekaargeval het, het die webtuiste RTBF berig.
Organiseerders het later gesê die fees, wat tot Saterdag sou duur, is gekanselleer.
Twee mense het verlede jaar by die fees gesterf. ‘n Klankingenieur is dood aan ‘n hartaanval en ‘n rock-sanger, Charles Haddon, het selfmoord gepleeg.
‘n Soortgelyke tragedie het verlede week in die VSA by ‘n fees in Indianapolis gebeur. Altesaam vyf mense is dood en 45 ander is beseer toe ‘n verhoog ineengestort het nadat sterk winde ontstaan het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP