Tot 75 dood ná boot met vlugtelinge omslaan
2012-06-21 15:27
Sydney – Tot 75 asielsoekers is dood nadat hul boot, wat van Sri Lanka gekom het, naby die afgeleë Kerseiland omgeslaan het, het die Australiese polisie Donderdag gesê.
Die Wes-Australiese polisiekommissaris, Karl O'Callaghan, sê ‘n “groot persentasie” van die 200 mense wat aan boord was, is moontlik dood.
“Van die baie vroeë berigte toon dat tot 75 mense moontlik verdrink het, maar ek wil beklemtoon dat dit in hierdie stadium nog nie bevestig is nie,” het O'Callaghan aan verslaggewers gesê.
“Ons dink daar was sowat 200 vlugtelinge aan boord. Daar is tans sowat 40 op die romp en die res is in die water,” het hy bygevoeg.
O'Callaghan sê die polisie is “baie bekommerd oor ‘n groot aantal mense wat moontlik verdrink het” ná die boot omgeslaan het. Die boot het sowat 120 seemyl van Australië se Kerseiland omgeslaan.
“Volgens inligting wat ons van die (reddings)vliegtuig ontvang het, was daar nie 200 reddingsbaadjies aan boord nie,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die reddingspoging waarskynlik tot in die nag sal voorgaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP