Tot 50 000 dood, sê WGO
2010-01-17 15:55
Genèva – Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê dat daar na raming reeds tussen 40 000 en 50 000 mense in Haïti weens die verwoestende aardbewing gesterf het.
“WGO/Paho (Pan American Health Organisation) het gesê die dodetal wissel van tussen 40 000 en 50 000 mense,” luidens ‘n verslag uitgereik deur die Verenigde Nasies (VN).
Die Haïtiaanse regering het reeds Vrydag gesê dat daar na raming tot 50 000 mense gesterf het én dat sowat 250 000 mense deur Donderdag se aardbewing, wat 7.0 op die Richterskaal gemeet het, beseer is.
- SAPA