Tot 1 000 dood in Turkye-aardbewing
2011-10-23 19:08
Ercis – ‘n Aardbewing van 7.3 op die Richterskaal het die ooste van Turkye Sondag getref, met tot 1 000 mense wat moontlik dood lê onder die puin van tientalle geboue wat ineengestort het.
Turkye se sterkste aardbewing in jare het Van, ‘n groot stad in die ooste, getref.
“’n Geskatte 500 tot 1 000 mense is waarskynlik weens die aardbewing dood,” het Mustafa Erdik, direkteur van die Kandilli-seismologiese instituut in Istanboel, aan verslaggewers gesê.
Vroeëre berigte het nie melding van ongevalle gemaak nie, maar daar is gevrees dat honderde onder die puin vasgekeer is en beamptes het gewaarsku dat hulle sukkel om die omvang van die skade te bepaal.
“Daar is ernstige menslike en materiële verlies,” het ‘n kort verklaring van die nasionale rampbestuurliggaam gelui.
Volgens beamptes het ongeveer 50 geboue ineengestort.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP