Tornado's saai verwoesting in VSA
2010-04-25 05:44
Washington – Tornado’s het Saterdag ‘n doodspad deur die suider Amerikaanse staat van Mississippi gemaak en minstens nege mense se lewens geëis, talle beseer en huise vernietig, het amptenare gesê.
Haley Barbour, die goewerneur van Mississippi, het ‘n noodtoestand verklaar in 17 distrikte wat deur die lente-storms en tornado’s verwoes is.
Die effek van hierdie storms het talle besighede vernietig en baie mense dakloos gelaat,” het Barbour in ‘n verklaring gesê.
Die tornado’s het geboue en telefoonlyne vernietig en die Amerikaanse weerdiens het gewaarsku dat sterk tornado’s besig was om in naburige state te ontwikkel.
Die burgemeester van Yazoo Stad, McArthur Straughter, het gesê dat minstens twee mense daar dood is, het plaaslike media berig.
Twee pasiënte is per helikopter na die Universiteit van Mississippi se mediese sentrum geneem, terwyl 17 ander per ambulans van Yazoo Stad na omliggende hospitale geneem is, het Jim Pollard van die Amerikaanse nooddienste gesê.
Die nasionale weerdiens voorspel nog tornado’s in omliggende dele.
- Sapa-AFP