Toeris gevind na sewe weke in wildernis
2011-05-07 22:59
Washington - 'n Kanadese toeris, wat sewe weke lank vermis was, is Vrydag wonderbaarlik in 'n afgesonderde deel van die Amerikaanse staat Nevada gevind.
"Rita Chretien (56) is veilig en in staat om met haar familie te praat. Sy is tans in 'n hospitaal in Twin Falls, Idaho," het polisiewoordvoerder Josh Bryant namens die Oregon polisie wat die soektog waargeneem het, gesê.
Reddingswerkers soek steeds na Chretien se man Albert, het Bryant telefonies gesê.
Die egpaar was in Maart vanjaar onderweg na Las Vegas toe hul Chevrolet op 'n pad in 'n afgesonderde gebied vasgesit het, het polisie gesê.
Albert Chretien (59) het gestap om hulp te gaan soek terwyl sy vrou agtergebly het.
Jagters het Rita Chretien én die Chevrolet Vrydag gevind waarna sy per helikopter na 'n hospitaal geneem is.
Raymond Chretien, een van die egpaar se kinders, het aan die plaaslike media gesê sy ma het sowat 10 kg verloor. En dat dit 'n wonderwerk is dat sy oorleef het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP