Toe eet paartjie saam met grootkoppe
2009-11-26 09:09
Washington – ‘n Ongenooide paartjie het dit reggekry om verby sekurtiteitsbeamptes te kom en in te glip by die Withuis se staatsete.
Die Amerikaanse geheime diens is tans besig om na hul eie sekuriteitsprosedures te kyk, nadat hulle vasgestel het dat Michaele en Tareq Salahi van Virginië, Dinsdagaand se staatsete bygewoon het.
Die paartjie was nie op die gastelys nie, het Ed Donovan, ‘n woordvoerder gesê.
Pres. Barack Obama was nie in enige gevaar nie, omdat die twee ongenooide gaste deur dieselfde sekuriteitsskerms gegaan het as wat die ander sowat 300 gaste moes doen. Die ete was gehou ome Manmohan Singh, die Indiese premier, te vereer.
Donovan het die identiteite van die egpaar bevestig. Die Washington Post, wat eerste oor die voorval berig het, het gesê die Salahis is bekend in die Virginië-omgewing.
Die geheime diens het Woensdag van die glips gehoor nadat die media navraag gedoen het omdat die Salahis aanlyn oor hul bywoning van die privaat aangeleentheid gespog het, aldus Donovan.
Een van die foto’s wat op die sosiale netwerk Facebook geplaas was, wys die paartjie met adjunkpresident Joe Biden. Op ander foto’s vertoon die twee alleen of saam Adrian Fenty, burgemeester van Washington en Katie Couric, nuusanker by CBS.
Donovan wou egter nie kommentaar lewer oor of die paartjie deur die geheime diens gekontak was, hoe lank hulle op die Withuis se perseel vertoef het, of ander besonderhede oor die ondersoek nie.
Volgens die Washington Post kan ongenooide gaste wat die staatsete bywoon ‘n klag van betreding in die gesig staar, tensy iemand van die Withuis die paartjie gehelp het om in te glip.
- Sapa-AP