Titanic 100 jaar gelede bekend gestel
2011-05-31 17:33
Londen – Belfast herdenk vandag die 100ste jaar vandat die Titanic by die stad se skeepstimmerwerf bekend gestel is.
Die Titanic het op 31 Mei 1911 na Belfast Lough gevaar nadat dit drie jaar neem het om die skip by die Harland & Wolff-skeepstimmerwerf te bou.
Die luukse skip, wat geadverteer is dat dit “feitlik nie kan sink nie,” het op 15 April 1912 gesink nadat dit ‘n ysberg getref het. Die skip het vanaf Southampton, Engeland, na New York gevaar.
Meer as 1 500 van die 2 200 mense wat aan boord was, het gesterf.
Die 100ste herdenking sal Dinsdag met ‘n kerkdiens by die hawe vereer word. ‘n Titanic-uitstalling sal ook geopen word.
Belfast het dekades lank gehuiwer om hul verbinding met die ramp te erken. Die stad het egter onlangs die skip aanvaar en selfs die woongebied en inkopie-distrik Titanic Quarter ontwikkel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP