Timboektoe in Franse beheer
2013-01-28 15:13
Bamako – Troepe onder leiding van Frankryk het Timboektoe Maandag omring en beheer oor die lughawe geneem.
Dié verwikkeling is die jongste deurbraak in die geveg teen Islamitiese rebelle wat uit sleutelvestings in die noorde gedryf is.
Franse valskermsoldate het Islamiete wat probeer vlug het, verhoed, terwyl troepe beheer oor die lughawe geneem het.
Timboektoe was 'n belangrike vesting vir die ekstremiste wat die noorde van die land die afgelope 10 maande beheer.
“Ons beheer die lughawe in Timboektoe,” het ‘n senior beampte van Mali se weermag aan AFP gesê.
“Ons het geen teenstand ervaar nie.”
Kol. Thierry Burkhard, woordvoerder van die Franse weermag, het aan AFP gesê die troepe het in minder as 48 uur beheer geneem oor die gebied langs die draai van die Niger-rivier, wat tussen Timboektoe en Gao vloei.
Die ekstremiste, wat beheer oor die dorp geneem en vroue gedwing het om kopdoeke te dra, het dié wat nie hul streng weergawe van Islamitiese wette nakom nie, aangerand en selfs gestenig.
“Ons sal Timboektoe binnekort bevry,” het Laurent Fabius, Frankryk se minister van buitelandse sake, aan die France 2-televisiekanaal gesê.
“Mali word bietjie vir bietjie bevry.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP