Tifoon woed in Taiwan, skuif dalk na China
2010-09-19 11:52
Taipei - 'n Tifoon woed in Taiwan met stormsterkte winde van meer as 200 kilometer per uur. Dit is dalk die ergste tifoon vanjaar in hierdie streek en daarom het China ook 150 000 mense ontruim en waarskuwings uitgestuur.
Tifoon Fanapi het al 19 beserings veroorsaak by mense wat omgewaai is en van hul motorfietse afgewaai is. Mense is ook beseer toe voorwerpe in hulle vasgewaai het, volgens die nasionale brandwag.
Meer as 400 millimeter reën het reeds op dele van die eiland geval.
Herinneringe aan die 700 mense wat gedood en vermis is ná Tifoon Morakot in 2009 gewoed het, lê nog vlak in Taiwan se geheue.
China berei reeds voor op voorspellings dat Fanapi Maandag dalk die suide van dié land kan tref.