Tifoon pyl op Taiwan af
2009-10-05 11:09
Tungshan- Owerhede in Taiwan het Maandag reeds meer as 6000 inwoners uit hulle huise ontruim weens tifoon Parma wat spoedig op pad is.
Tifoon Parma hang nou by die see naby die eiland en veroorsaak reeds verskeie donderstorm en grondstortings. Teen Maandagoggend was die tifoon sowat 250km suidwes van die mees suidelike punt van Taiwan.
Volgens nooddienswerkers het meeste van die ontruimings reeds in die suide van Taiwan plaasgevind. Hierdie area is in Augustus swaar getref deur tifoon Morakot.
“Die inwoners is almal na ‘n skuiling geneem. Hulle is almal veilig,” het Andrew Cheng van die Nasionale Rampsvoorkoming en Beskermingskommissie gesê.
“Die volgende 24 tot 48 uur sal kritiek wees. Ons sal dan sien hoeveel reën die tifoon aanstuur,” het Cheng gesê.
Meer as 3000 inwoners in Pingtung het hulle huise ontruim en ‘n verdere 2000 in Kaohsiung. Die res het almal uit Yilan, Hualien en Taitung gevlug.
–Sapa, AFP