Tiere van dieretuin geskiet
2009-11-16 16:01
Beijing - Polisie in die noord-ooste van China moes twee uitgehongerde Siberiese tiere doodskiet nadat hulle ‘n werker by ‘n dieretuin aangeval het.
Die voorval het by ‘n dieretuin in Shenyang, die hoofstad van die Liaoning-provinsie in China, plaasgevind, het die Global Times berig.
Die twee tiere het die 51-jarige Yang Jingwei aangeval toe hy besig was om sneeu van ‘n voetgangerspad, wat net vir werknemers bedoel was, op te skep.
“Die aanval word toegeskryf aan finansiële probleme in die wildtuin wat gelei het tot die verhongering van die tiere,” het die koerant gesê.
Werkers by die dieretuin het die tiere eers 15 minute ná die aanval plaasgevind het, van Yang afgetrek.
Die diere is doodgeskiet na polisie op die toneel verskyn het.
Yang het ernstige wonde aan sy nek, hande, arms, bene en dele van sy gesig opgedoen.
- Sapa-AFP