Tier verskeur vyfjarige meisie
2011-11-07 13:03
Djakarta – ‘n Tier het ‘n vyfjarige meisie op Sumatra-eiland in Indonesië doodgebyt.
Fitria binti Judin het Saterdag saam met twee ander familielede naby die woud gespeel in die Kepahiang-distrik toe ‘n Sumatraanse tier haar aangeval het, het die Antara-nuusagentskap berig.
“Dit het gereën en ‘n tier het skielik verskyn en haar verskeur,” het Supartono, die hoof van die plaaslike natuurbewaringsagentskap, aan Antara gesê.
Omgewingsgesindes sê voorvalle tussen diere en mense is ‘n toenemende probleem in Indonesië, met woonbuurte wat al meer aan natuurlike habitatte grens.
Daar is minder as 400 Sumatraanse tiere in die natuur oor en hul oorlewing word bedreig deur ontbossing en stroping van die diere, het die Wêreldnatuurfonds gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA