Tier val driejarige seun by Russiese sirkus aan
2012-01-04 14:32
Moskou – ‘n Tier wat deel was van ‘n rondreisende sirkus in Rusland het ‘n driejarige seun ernstig beseer toe hy hom in sy kloue gegryp het, het ondersoekbeamptes Woensdag gesê.
Die tier het die seun Woensdagmiddag in Blagoveshchensk in die Amur-streek aangeval, het die ondersoekende komitee in ‘n verklaring op sy webwerf gesê.
“Die kind is in ‘n ernstige toestand na die Amur-streekshospitaal geneem waar hy mediese behandeling ontvang.”
Russiese televisie het berig dat die seun se kop oopgeskeur is en dat hy breinbeserings opgedoen het.
Die streekstak van die nooddienste het gesê die dier was ‘n Amur-tier, ‘n bedreigde groot kat wat in die ooste van Rusland en in China voorkom.
Die tier het die kind glo aangeval toe hy te naby gestaan het sodat sy foto geneem kon word, het die Life News-webwerf berig.
‘n Woordvoerder van die nooddienste het aan die Komsomolskaya Pravda-koerant gesê dat die tier se baas hom uit sy hok gehaal het sodat mense foto’s kon neem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP