Tiener-weduwee glo agter Moskou-bomme
2010-04-02 12:35
Moskou – Russiese ondersoekbeamptes het glo een van die vroulike selfmoordbomaanvallers geïdentifiseer wat verantwoordelik was vir die metro-bomme in Moskou.
Die 17-jarige, Dzhennet Abdurakhmanova, was glo die weduwee van ‘n Caucasus-militant, het die Kommersant Daily Vrydag berig.
Abdurakhmanova se man, Umalat Magomedov, was glo ‘n Islamitiese rebel wat in 2009 vermoor is.
Die Kommersant Daily het ‘n foto van die paartjie gepubliseer waar beide met vuurwapens gestaan het.
Daar is nie duidelikheid of die paartjie amptelik getroud was nie.
Abdurakhmanova is vanaf die Khasavyurtovsky-distrik afkomstig en het Magomedov op die ouderdom van 16 ontmoet toe sy via die internet met die rebelle kontak gemaak het.
Die jong weduwee is glo uitgeken met die hulp van verskeie foto’s.
Die ondersoekbeamptes in Rusland glo dat Abdurakhmanova verantwoordelik was vir die eerste ontploffing wat Maandag afgegaan het. ‘n Tweede ontploffing het die treinstasie kort daarna geruk. Altesame 39 mense het gesterf.
- Sapa, AFP