Tiener wat vir Obama sing, doodgeskiet
2013-01-31 08:31
Chicago – ‘n Vyftienjarige meisie wat by pres. Barack Obama se inhuldiging opgetree het, is deur ‘n gewapende man doodgeskiet, het die polisie Woensdag gesê.
Die man het glo losgebrand op ‘n groep kinders wat in ‘n park was.
“Ons het verneem die oortreder het die groep aangesien vir ‘n bende en het gevolglik op hulle geskiet,” het Laura Kubiak, ‘n polisiebeampte, aan AFP gesê.
Hadiya Pendleton – wat deur ‘n familielid beskryf is as ‘n “engel op bene” – het Dinsdag saam met 10 of 12 ander tieners onder ‘n afdak van die reën geskuil toe die skieter omstreeks 14:30 oor ‘n heining gespring, losgebrand en in ‘n wegkommotor gespring het.
Haar vriende het uit vrees weggehardloop en het nie gebly om Pendleton en die twee seuns wat ook beseer is te help nie, het Kubiak gesê.
“Soos gewoonlik mik die slegte ou, maar hy tref nooit die ander slegte ou nie,” het haar peetpa, Damon Stewart, wat ‘n polisiebeampte in Chicago is, aan die Chicago Sun-Times gesê.
“Ek het haar doeke omgeruil. Ek het met haar gespeel toe sy jonk was. My hart is gebreek.”
Chicago word tans geteister deur bendegeweld en die stad se moordsyfer het in 2012 met 16%, na 506, gestyg. Meer as 40 moorde is reeds hierdie jaar aangemeld.
Die Withuis het Woensdag gesê Obama bid vir Pendleton se familie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP