Tiener vermoor ma, suster om planeet te red
2012-02-02 10:55
Hongkong – 'n Vyftienjarige seun het sy ma en suster vermoor omdat hy glo daar is te veel mense in die wêreld, het 'n nuusberig in Hongkong gesê.
Kan Ka-leung het 'n vleisbyl gebruik om sy ma en jonger suster te vermoor.
Hy het later aan een van die ambulanspersoneellede gesê as daar minder mense in die wêreld is, sal dit meer omgewingsvriendelik wees, het die South China Morning Post berig.
Ka-leung, wat nou 16 jaar oud is, het skuld ontken op twee aanklagtes van moord maar het skuld erken op aanklag van manslag.
Verslae wat by die hof ingedien is, het bewys dat Ka-leung skisofrenies is en hy is tydens sy verhoor Woensdag beveel om vir 'n onbepaalde tyd in 'n psigiatriese hospitaal te bly.
Die hof het gehoor die moorde het op 22 Julie 2010 omstreeks 02:00 plaasgevind.
Sy ma, Lam Lin-kan (40), het 17 ernstige kopbeserings opgedoen en 17 ernstige snywonde.
Sy suster, Kan Chung-yue (12) het 30 beserings opgedoen.
Ka-leung, wat deur sy onderwysers as 'n goeie student beskryf is, het aan die polisie gesê hy sou "alle slegte mense" doodgemaak het, maar het die nooddienste gebel omdat hy sy hand beseer het.
– Volg Nuus24 op Twitter.