Tiener vermoor glo drie oor aanlynspeletjies
2012-01-10 13:25
Hanoi – Die hofsaak van ‘n 17-jarige Viëtnamese seun wat erken het dat hy drie mense dood gemaak het om geld vir aanlynspeletjies te kry, het Dinsdag begin.
Le Van Luyen is in Augustus in hegtenis geneem ‘n week nadat hy ‘n 37-jarige man, sy vrou en hulle 19 maande ou dogter doodgemaak het en die hand van hulle negejarige dogter afgekap het.
Hy het erken dat hy die man en sy familie met ‘n mes aangeval het by die paartjie se juwelierswinkel in die Bac Giang-provinsie. Hy het juwele en goud ter waarde van $100 000 (sowat R800 000) gesteel.
Luyen word aangekla van moord, roof en diefstal.
Hy het gesê dat hy die geld nodig gehad het om Kiem The, ‘n gewelddadige aanlynspeletjie, te speel.
Indien Luyen skuldig bevind word, kan hy tot 18 jaar tronkstraf kry.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA