Tiener ontsnap ná twee jaar uit ontvoerders se kloue
2012-08-24 13:30
Washington Park, Ilinois, – 'n Meisie wat meer as twee jaar gelede as vermis aangemeld is, het aan die polisie gesê sy het uit 'n huis in Ilinois ontsnap waar sy aangehou en herhaaldelik seksueel misbruik is.
Sy was destyds 15 jaar oud.
Owerhede in Washington Park het Donderdagmiddag 'n klopjag op die huis uitgevoer en 'n 24-jarige man en sy ma in hegtenis geneem. Hulle het ook die tiener se kind gevind, wat glo gebore is nadat sy deur haar ontvoerder verkrag is.
David Clark, polisiehoof van Washington Park, sê hulle vermoed die man se ma het gehelp met die misdade. Die polisie wou nie die twee verdagtes se name bekendmaak nie omdat hulle nog nie aangekla is nie.
Die polisie in St. Louis, Missouri, het die meisie in April 2010 as vermis of 'n jeugdige wat weggeloop het, gelys.
Die tiener het aan die polisie gesê sy is teen haar wil aangehou en byna daagliks geslaan en seksueel misbruik.
Sy het glo verskeie kere probeer om te ontsnap, maar het gesê haar ontvoerder het haar elke keer gevang en met 'n vuurwapen gedreig om terug na die huis te gaan.
Sy het dit vandeesweek, met behulp van 'n familielid, ontsnap.
Volgens die polisie het die tiener ook aan hulle gesê sy was deur die man en sy ma gedwing om 'n valse naam in mediese rekords te gebruik tydens haar swangerskap en toe die kind gebore is.
'n Buurvrou, Lakeitha Smith, het aan verskeie plaaslike televisiekanale gesê sy het die meisie van tyd tot tyd buite die huis gesien, maar nooit iets raakgesien wat kommerwekkend was nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP