Tiener bel polisie oor bom om haar nek
2011-08-04 07:11
Die polisie in Sydney, Australië, het gister ’n bom ontlont wat om ’n tiener se nek vasgebind was.
Madeleine Pulver (18) het die polisie gebel nadat sy ’n “verdagte toestel” in haar gesin se herehuis in die welgestelde Mosman-buurt gevind het, het die Australiese koerant The Daily Telegraph berig.
Dit is nog onduidelik hoe dit gebeur het dat die toestel aan haar vasgebind is, maar daar word verstaan dat sy dit nie self gedoen het nie.
Assistent-polisiekommissaris Mark Murdoch het kort ná middernag (Australiese tyd) gesê dat Pulver van die “baie ingewikkelde, baie gesofistikeerde” toestel bevry is. Tegnici het tien uur lank gespook om haar los te kry.
’n Senior polisiebeampte het gesê dié “kraagbom” is nog nooit tevore in Australië gesien nie.
Volgens hom vermoed die polisie dis ’n poging om Pulver se gesin, een van die rykstes in Sydney, af te pers.
’n Losprysnota is glo saam met die bom vasgemaak.
Die meisie was “vreesbevange, maar baie kalm”, het Murdoch gesê.
Vier polisiebeamptes, onder wie spesialis-onderhandelaars, het heeltyd by haar gebly.
Haar ouers is egter nie in die huis toegelaat nie en kon ook nie met haar praat nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld