Tibettaan maak grappe voor vlammedood
2013-02-14 11:49
Katmandoe – ‘n Tibettaan wat hom naby ‘n Boeddhistiese tempel in Nepal aan die brand gesteek het, het aan sy beserings beswyk, het hospitaalpersoneel Donderdag gesê.
Die man, wat Woensdag petrol oor hom uitgegooi het, was die 100ste Tibettaan om hom sedert 2009 aan die brand te steek in verset teen China se beheer oor Tibet.
Donderdag is berig dat ‘n ander Tibettaan verlede week in die Sichuan-provinsie in die suide van China doodgebrand het, wat die getal volgens ‘n telling deur die Tibettaanse regering op 101 te staan bring.
Die man in Nepal het “Woensdag om 22:30 (16:45 GMT) gesterf weens sy beserings. Sy liggaam het 96% brandwonde gehad,” het Bhagawan Koirala, direkteur van die Tribhuvan Universiteit-opleidingshospitaal, gesê.
Die Tibettaan, wat in sy vroeë 20’s was, het hom Woensdag in die badkamer van ‘n restaurant op die perseel van die Boudhanath Stupa, 'n bekende tempel in Katmandoe, vol petrol gegooi en homself daarna aan die brand gesteek.
‘n Belgiese vrou het aan AFP beskryf hoe sy die man teëgekom het kort voordat hy na die badkamer geloop het. Sy het gesê hy het “opgewonde” gelyk en het spottenderwys gesê hy wil hê iemand moet ‘n foto van hom neem.
“Hy het ons genader en gevra dat ons ‘n foto van hom neem terwyl hy ‘n aansteker uitgehaal en aangesteek het. Ons het hom gegroet en na die kafee gegaan,” het die 47-jarige vrou, wat nie geïdentifiseer wil word nie, gesê.
“Ná ‘n ruk het rook van naby die hek by die stupa opgekom. Wat ek gesien het was verstommend. Die man was geheel en al vol vlamme. Hy was soos ‘n menslike fakkel.
“Almal was geskok, want dit was heeltemal onverwags. Dit het ‘n rukkie geneem vir mense om te reageer,” het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP