Thaise vloede kan Bangkok bedreig
2011-10-10 09:38
Bangkok – Byna 200 fabrieke in die Thaise provinsie Ayutthaya, waaronder een wat deur die Japanse motorvervaardiger Honda bestuur word, is weens vloede gesluit.
Amptenare het Sondag gesê dié vloede kan Bangkok vandeesweek bedreig.
Volgens die departement van rampvoorkoming en -verligting het ongeveer 261 mense reeds sedert einde Julie gesterf in voorvalle wat met vloede verband hou en sowat 2,3 miljoen mense is daardeur geraak.
Dit is die ergste vloede van die afgelope 50 jaar in Thailand en kom hoofsaaklik in die sentrale dele van die land, die noorde en die noordooste voor.
Ontleders het Donderdag gesê die groei in die bruto binnelandse produk kan vanjaar as gevolg hiervan 3,6% wees, eerder as die 4,4% wat vroeër voorspel is.
Volgens die ministerie van handel kan die rys-oes, waarmee boere pas begin het, op 21 miljoen ton te staan kom, eerder as die verwagte 25 miljoen ton.
Thailand is die wêreld se grootste uitvoerder van rys en die skade aan dié gewas kan die druk op uitvoerpryse verder verhoog. Die uitvoerprys is reeds opwaarts gedwing deur die hoë aankoopprys wat daargestel is as deel van ’n regeringsprogram met die doel om arm boere te help.
Intussen het Sukhumbhand Paribatra, goewerneur van Bangkok, gesê owerhede werk reeds aan ’n ontruimingsplan om mense uit dié stad te verskuif indien dit deur ’n vloed getref word. Die grootste deel van die stad is slegs twee meter bo seevlak.
Ander lande in Suidoos-Asië het ook in die afgelope weke onder vloede deurgeloop as gevolg van erge moesonreëns en tropiese storms. In die Filippyne het 101 mense reeds gesterf, asook 167 in Kambodja en 15 in Viëtnam. – Reuters
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger