Thaise nagklub-eienaar aangekla ná brand
2012-10-03 10:36
Bangkok – Die polisie in Thailand het ‘n nagklub-eienaar van nalatigheid aangekla oor ‘n brand waarin vier mense, insluitend twee buitelanders, in Phoeket dood is, het ‘n beampte Woensdag gesê.
Indien hy skuldig bevind word kan Piya Isramalai, die eienaar van Tiger Group, tot ‘n maksimum van 10 jaar tronkstraf gevonnis word vir die brand wat op 17 Augustus by die Tiger Discotheque uitgebreek het.
Piya is ook daarvan aangekla dat hy ‘n onderneming buite die wettige ure bestuur het.
“Hy is verlede week amptelik aangekla nadat hy hom aan die polisie oorgegee het,” het lt.kol. Kittipong Klaikaeo gesê.
Hy sê die inligting sal binnekort aan aanklaers oorhandig word.
‘n Britse en Franse toeris, sowel as twee Thaise vroue, is dood in die brand wat glo vinnig versprei het omdat vlambare materiaal in die konstruksie en versiering van die nagklub gebruik is.
Altesaam 11 ander mense is in die voorval beseer.
Die brand het tydens ‘n donderstorm uitgebreek en die polisie vermoed dat ‘n elektriese fout die brand veroorsaak het, het Kittipong gesê.
Die eienaar van ‘n ander nagklub in Bangkok waarin meer as 60 mense in 2009 in ‘n brand dood is, is verlede jaar tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir nalatigheid.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP