Thailand: Mense en olifante moet in vrede saamleef
2012-01-18 14:00
Bangkok – Thaise regeringsagentskappe, omgewingsbeskermers en boere het ‘n ooreenkoms bereik met die doel om konflik tussen mense en olifante te verminder, volgens nuusberigte Woensdag.
Die ooreenkoms is gemaak na ‘n aantal onlangse gevalle waartydens olifante doodgeskiet of –geskok is nadat hulle van nasionale parke na nabygeleë vrugteboorde afgedwaal het.
Veera Sriwattanatrakul, die goewerneur van die Prachuap Khiri Khan-provinsie, het gesê die ooreenkoms, wat Dinsdag onderteken is, sal konflik tussen mense en olifante probeer verminder deur meer kos aan die olifante binne die nasionale parke te verskaf.
“Ons sal voedselbronne vir hulle in die woude skep,” het hy gesê.
“Dit gaan duur wees, maar ons moet dit doen om te verseker dat wilde olifante en mense in vrede saam kan leef en so ‘n einde aan die probleme te bring.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA