Terroris-leier glo doodgeskiet
2009-09-17 08:46
Kepuh Sari, Indonesië - Suidoos-Asië se mees gesoekte misdadiger is moontlik tydens ’n polisieklopjag vroeg Donderdagoggend doodgemaak.
Noordin Mohammed Top was gesoek in verband met die dubbele bomaanvalle op twee spoghotelle in Djakarta in Julie.
’n Offisier in Indonesië se anti-terreur eenheid het aan AFP gesê Noordin se liggaam was een van vier wat uit ’n huis in sentrale Java verwyder is ná ’n geveg met die polisie.
Die offisier, wat anoniem wou bly, het gesê dit is "90% seker" dat die oorskot aan Noordin behoort.
Die klopjag op die huis in Solo-stad, waar lede van die Jemaah Islamiya-terroristenetwerk geskuil het, het nege ure geduur.
Nanan Soekarna, ’n polisiewoordvoerder, wou nie die identiteit van enige van die persone wat in die klopjag dood is, bevestig nie.
Volgens Soekarna sal die lyke in Djakarta geïdentifiseer word.
Die woordvoerder het egter bevestig dat die klopjag gemik was op terroriste wat vermoedelik betrokke was by die Julie-bomaanvalle.
Talle handgranate en agt sakke plofstof is in die huis gevind.
Noordin (41) is die meesterbrein agter ’n radikale faksie van Jemaah Islamiya. Hy word gesoek in verband met ’n rits dodelike aanvalle.
- Sapa-AFP